


Skaapvleis

GEBRAAIDE SKAAPBOUD
Vryf die volgende mengsel in die skaapboud in:
1 eetlepel bruinsuiker
1/2 teelepel peper
1 1/2 eetlepel sout
Metode
Sprinkel 1 eetlepel asyn of portwyn oor die skaapboud. Laat 24 uur lank so staan. As enige van die soutmengsel oorgebly het, vryf dan weer oor die vleis. Sprinkel meelblom oor. Braai op die gewone manier. As vleis taai lyk, kan 'n bietjie water in die bakskottel saam met die vleis geplaas word, aangesien die stoom die vleis sagter sal maak. Al die vloeistof behoort weg te kook, anders sal die vleis nie bruin en bros braai nie.
GRIEKSE LAMSBOUD MET JOGURTSOUS
1.5 kg lamsboud
3 knoffelhuisies, gekerf
50ml botter
5ml roosmaryn
3ml tiemie
12.5ml suurlemoensap
sout en peper na smaak
SOUS:
250ml jogurt
2 knoffelhuisies, gekneus
10ml vars kruisement, gekap
10ml sprietui, gekap
Sny klein snytjies oral in lamsboud. Druk knoffelstukkies in snytjies. Klop botter, roosmaryn, tiemie en sap saam. Geur na smaak. Plaas vleis in oondbraaipan en oondbraai by 160C. Laat 20 minute toe vir elke 500g vleis plus 20 minute. Bedruip vleis af en toe met bottermengsel.
Berei sous: Meng jogurt met res van sousbestanddele. Geur na smaak.
LAMSBOUD MET GROENVYE EN ROOIWYN
1 lamsboud, ongeveer 1,5 kg
5 knoffelhuisies, skoongemaak
3 - 4 groenvye in stroop, in klein sstukkies gesny
1 blokkie beesvleisaftreksel
250 ml kookwater
500 ml rooiwyn
15 ml vars roosmaryn
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Sous
500 ml pansappe van die boud
54 ml bisto
250 ml groenvyestroop
Voorverhit die oond tot 160 grade. Maak klein insnydings in die boud en stop die knoffel en die vye daarin. Los die vleisaftreksel blokkie op
in die kookwater en voeg die rooiwyn en die roosmaryn by. Gooi dit oor die boud en geur die boud met sout en peper. Bak die boud vir
ongeveer 1 uur 45 minute. Laat die vleis rus vir 10 minute.
Plaas al die bestandele vir die sous in n kastol en kook dit tot dik en stroperig.
LAMSBOUD MET KARRINGMELK MARINADE
1 lamsboud, ontbeen en soos 'n vlinder oopgesny
125 ml karringmelk
10 ml gegeurde seesout
2,5 ml gemaalde swartpeper
Bedruipsous:
100g gesmeltebotter
2 knoffelhuisies, fyn gekap of gedruk
2,5 ml suiker sap van ½ suurlemoen
Giet die karringmelk in 'n glasbak en plaas die vleis daarin. Draai dit 'n paar keer om sodat die vleis goed bedek word. Laat 24 uur lank in die koelkas marineer. Karringmelk is 'n uitstekende versagter. Dit trek nie die vleissappe uit nie, en sal nie die smaak van die vleis op enige manier verander nie. Haal die vleis die volgende dag uit en droog versigtig met kombuispapier af. Geur met gegeurde sout en swartpeper. Meng die bestanddele vir die bedruipsous. Plaas die vleis op die rooster oor matig-warm kole. Braai 15 minute lank tot mooi bruin. Draai om met 'n braaitang.
SKAAPBOUD SONDER FIETERJASIES
Maklikste skaapboud ooit en dit werk ELKE keer.
Dit hang nou af wanneer jy die boud wil bedien. As jy hom vir Sondagmiddagete wil hê, stel ek voor dat jy deel 1 die aand voor jy gaan slaap doen. Vir aandete kan jy dit die oggend voor werk doen.
Metode:
1 Skaapboud
3 groot uie
2 k water
Bisto
Stel oond op 110C
Sit gevriesde skaapboud, vetkant na bo in groot caserole wat kan toemaak.
Gooi lekker dik met Steak 'n Chop spice of enige speserye vir vleis wat jy verkies.
Sny uie in kwarte en pak om skaapboud.
Gooi water by.
Bedek en sit in oond.
Gaan werk toe of gaan slaap en laat skaapboud op sy eie.
Deel 2 (Ongeveer 8 - 10 ure later) :
(Hierdie is ekstra moeite en nie nodig nie, maar uiters die moeite werd:
trek die aftreksel op met 'n groot spuitnaald wat jy by die apteek kan kry en spuit dit in die boud op verskeie plekke)
Met 'n baie skerp mes sny oor die vet kant sodat daar 'n diamant motief oor die vetkant strek.
Rooster die vetjies tot dit lekker bruin is.
Haal boud uit en sit op opdien bord en sny altyd teen die grein van die vleis. M.a.w loodreg met die been, nie parrallel met die been nie.
Gebruik vleissous en uie om 'n sous te maak deur bietjie Bisto in te meng of 'n pakkie soppoeier wat 'n vleis geur het.
Bedien saam met bykosse van keuse, maar ek stel voor groenboontjies en gebakte aartappels of rys.
SKAAPBOUD TREFFER
1 skaapboud (ongeveer 1,6kg)
5 knoffelhuisies (in repe gesny)
12,5ml droë tiemie
500ml karringmelk
12,5ml mielieblom (aangemaak met
1 eier (geklits)
bietjie water)
sout en varsgemaalde swartpeper
Steek gaatjies met 'n skerppuntmes in die boud en druk 'n knoffelreep in elke gaatjie. Meng die res van bestanddele buiten die
sout en peper in 'n groot mengbak. Verhit tot die mengsel verdik. Laat goed afkoel. Plaas vleis in afgekoelde mengsel en laat 12 uur lank in
die yskas staan. Voorverhit oond tot 160C. Verwyder die boud uit die mengsel, geur goed met sout en swartpeper en plaas bo-op 'n
draadrakkie in 'n groot oondbak. Bak 25 minute lank per 500g plus 20 minute ekstra. Bedruip gereeld met die karringmelk-marinade. Sny in skywe en dien op
SMULLEKKER SKAAPBOUD
500ml water
1 vleisekstrakblokkie
5ml uievlokkies of 1 ui gekap
10ml sout
7,5ml mosterdpoeier
0ml suiker
5ml swartpeper
7,5ml fyn gemmer
2 knoffelhuisies
2kg skaapboud
25ml meelblom
25ml olie
50ml tamatiesous
25ml worcestersous
25ml blatjang
37,5ml botter of margarien, gesmelt
10ml suiker
5ml asyn
1ml Tabascosous
10ml mielieblom
Berei die aftreksel die dag vantevore deur die water, vleisaftrekselblokkie en ui 10 min lank saam te kook en dit dan deur ‘n sif te gooi. Ook ‘n dag vantevore: Meng die sout, mosterdpoeier,suiker, swartpeper en gemmer en vryf dit oor die oppervlakte van die vleis. Laat staan oornag. Stel die oond op 200C. Skil en sny die knoffel in repies. Druk die knoffel op verskeie plekke naby die been in die vleis in. Strooi die meelblom oor die vleis. Verhit die olie in die oondpan en plaas die vleis op ‘n vleisrak in die oondpan. Bak die vleis ‘n uur lank in die vooraf verhitte oond. Bedruip elke tien minute met die
olie in die pan. Die hitte kan na 30 minute verlaag word.
Berei die sous deur die aftreksel wat die vorige dag berei is, met die tamatiesous,.Worcestersous, blatjang, gesmelte botter, suiker, asyn en Tabascosous te meng. Verdik die sous met die mielieblom wat met ‘n bietjie water aangemaak is en gooi dit oor die vleis.
OUPA JOHAN SE SKAAPBOUD
500ml water
1 vleisekstrakblokkie
5ml uievlokkies of 1 ui gekap
10ml sout
7,5ml mosterdpoeier
10ml suiker
5ml swartpeper
7,5ml fyn gemmer
2 knoffelhuisies
2kg skaapboud
25ml meelblom
25ml olie
50ml tamatiesous
25ml worcestersous
25ml blatjang
37,5ml botter of margarien, gesmelt
10ml suiker
5ml asyn
1ml Tabascosous
10ml mielieblom
Berei die aftreksel die dag vantevore deur die water,vleisaftrekselblokkie en ui 10 min lank saam te kook en dit dan deur 'n sif te gooi. Ook 'n dag vantevore: Meng die sout, mosterdpoeier,suiker, swartpeper en gemmer en vryf dit oor die oppervlakte van die vleis.
Laat staan oornag. Stel die oond op 200C. Skil en sny die knoffel in repies. Druk die knoffel op verskeie plekke naby die beeî in die vleis in. Strooi die meelblom oor die vleis. Verhit die olie in die oondpan en plaas die vleis op 'n vleisrak in die oondpan.
Bak die vleis 'n uur lank in die vooraf verhitte oond. Bedruip elke tien minute met die olie in die pan. Die hitte kan na 30 minute verlaag word. Berei die sous deur die aftreksel wat die vorige dag berei is, met die tamatiesous,. Worcestersous, blatjang, gesmelte botter, suiker, asyn en Tabascosous te meng. Verdik die sous met die mielieblom wat met 'n bietjie water aangemaak is en gooi dit oor die vleis.
OUMA JENNY SE SKAAPBOUD
2½ - 3kg ontbeende skaapboud
sout en peper na smaak
braaivleis spesery (opsioneel)
fyn appelkooskonfyt (verdun met asyn)
½ tot 1 koppie room
Voorverhit die oond tot 180C. Vryf sout, peper en speserye oor boud. Smeer konfyt oor boud. Bind vas met tou. Plaas op foelie (foelie blink kant na binne), gooi room oor en maak toe sodat room nie uitloop nie. Sit in oondpan en bak vir ongeveer 2 ure toets en sit voor
POTGEBRAAIDE LAMSRIBBETJIE
75 ml ( 5 e) heel koljander
2 kg Skaap- of lamsrib, in blokke van 5 cm elk opgesny
50 ml Brandewyn
30 ml (2 e) growwesout
Metode
Verhit 'n driebeenpot oor matige hitte.
Skroei di koljander ongeveer 2 minute lank in die pot.
Roer dit voortdurend.
Voeg die vleis en brandewyn by en braai dit 40 minute lank. Roer dit dikwels.
Voeg die sout by en roerbraai dit nog 5 minute lank of totdat die vleis bruin is.
Bedien dit met stywepap of paptert.
LEWER IN NETVET (SKILPADJIES)
Lewerstukkies wat in netvet toegedraai is, is 'n heerlike voorgereg om die ergste hongerpyne te stil solank die ander kosse gaar word.
500 gm heel lewer
1 kg netvet van 'n skaap of vark
Tandestokkies
Sout en peper
Sny die lewer in stukkies van ongeveer 5 cm x 2 cm en trek die vliesies af. Sny die dun gedeelte van die netvet in stukkies wat net groot genoeg is om die lewerstukkies in toe te draai. Sout en peper die lewerstukkies, draai elkeen afsonderlik in 'n stukkie netvet toe en steek die vet met 'n tandestokkie vas.
Braai vir 10 tot 15 minute op matige kole tot bruin en bedien dadelik
LAMSKERRIE
1 groot ui, in ringe gesny
1 takkie vars kerrieblare
Olie
1 eetlepel (15ml) knoffel en gemmer
4 eetlepels (60ml) gemengde masala-poeier
1/2 teelepel (2ml) borrie
2 medium-grootte tamaties
1kg PnP lamstowe-vleis, in blokke gesny
4-5 medium-grootte aartappels, geskil en in kwarte gesny
4-5 wortels, gesny
Vars koljanderblare, gekap
-
Braai die ui en kerrieblare in ‘n bietjie olie totdat die uie sag en goudbruin is.
-
Roer dan die knoffel en gemmer, masala en borrie in.
-
Voeg die tamaties by en kook vir omtrent 3 minute.
-
Sit die vleis by, bedek en verminder hitte en kook vir omtrent 10 minute. Sit die aartappels en wortels en 60ml water by.
-
Bedek en prut vir 20 minute.
-
Voeg die gekapte koljanderblare aan die einde van die kooktyd by.
-
Geur met sout, indien nodig.
Bedien met rys en tamatie-en-uie salsa.
Wenk: Maak 'n vegetariese kerrie deur bloot die skaapvleis uit te laat.
HEUNINGTJOPS
8 skaaptjops
sout en varsgemaalde swartpeper
SOUS:
50ml heuning
125ml blatjang
5ml gemengde kruie
5ml mosterdpoeier
2ml kerriepoeier
Stel oond op 180C. Geur tjops met sout en peper na smaak.
Plaas in ‘n gesmeerde oondbak. Meng al die bestanddele vir sous en giet oor tjops.
Bak tot gaar.
GEKRUMMELDE LAMSTJOPS
* 8 lamstjops
* sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
* 35 g (60 ml) koekmeel
* 1 eier, geklits
* 150 ml polenta
* 15 ml fyngekapte roosmaryn
* sowat 100 ml olyfolie
* 1 suurlemoen, in wiggies gesny
* hand vol vars basiliekruidblare
Geur lamstjops met sout en swartpeper. Bedek met meel en skud oortollige meel af. Doop tjops in eier. Meng polenta en roosmaryn. Doop tjops in polenta-mengsel. Verhit olyfolie in 'n pan. Braai tjops weerskante, sowat 2 minute aan elke kant. Sit voor met suurlemoenwiggies en vars basiliekruidblare.
BOBOTIE
1 kg gemaalde beesvleis of skaapvleis
1 middelslag ui fyngekap
½k pitlose rosyne (opsioneel)
12.5 ml appelkooskonfyt
12.5 ml vrugte blatjang
1 sny witbrood
10ml botter of olie
3 eiers
250ml melk
25 ml suurlemoensap
10ml kerriepoeier
5ml borrie
2 suurlemoen of lourierblare
10 ml sout
METODE:
Week die brood in 125ml van die melk, druk die melk uit, meng die brood met die gemaalde vleis. Meng al die bestanddele by behalwe die botter of olie, eiers, melk en blare. Smelt die botter of verhit die olie in 'n pan en verbruin die vleismengsel liggies daarin. Keer uit in 'n kasserol. Klop die eiers en die res van die melk ligweg en giet oor die vleismengsel. Garneer met die blare. Bak in die oond by 180°C, omtrent 50 minute.
BUNNY CHOW
(4 porsies)
30 ml sonneblomolie
1 kg ontbeende lamsboud, in blokkies gesny
1 ui, grofgekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml vinkelsaad, gestamp met stamper en vysel
10 ml komyn
10 ml koljander
15 ml garam masala
5 ml fyn kaneel
3 ml gemmer
3 kardemompeule
1 ml droë brandrissievlokkies
15 ml borrie
1 blik (410 g) gekapte tamaties
1 blik (400 ml) klappermelk
sap van 1 suurlemoen
250 ml water
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 witbrode, om voor te sit
METODE:
Verhit oond tot 180 °C. Verhit olie in oondkastrol. Braai vleis bietjie-bietjie en hou eenkant. Gebruik nog 'n bietjie olie (indien nodig) en braai ui tot sag en deurskynend. Voeg knoffel en al die speserye by. Braai vir so een minuut. Voeg geblikte tamatie, klappermelk en suurlemoensap by. Voeg vleis en water by. Geur met sout en swartpeper. Plaas vir so 2 uur in warm oond totdat vleis lekker sag is. Hou dop - as die vloeistof wegkook, kan jy nog water byvoeg. Halveer brode en hol hulle uit. Skep van die kerrie in en sit 'n halwe gevulde brood per persoon voor, met atjar en blatjang.
LAMSKENKELS
As jy lekker groot lamskenkels kry, lyk dit soos ’n mini-lamsboud.
Lank en stadig gekook en met ’n lekker sous is dit ideaal vir onthaal
(4 - 6 porsies)
4 lamskenkels van sowat 600 g elk
100 g meel
100 ml olyfolie
1 blik gekapte tamaties
1 rooi soetrissie, in groot stukke gesny
2 wortels, in groot stukke gesny
2 takke seldery, in groot stukke gesny
1 ui, in kwarte gesny
3 knoffelhuisies
500 ml rooiwyn
2 lourierblare
3 vars takkies origanum
500 ml groente-aftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
METODE:
Verhit jou oond tot 160 °C. Plaas tamaties, soetrissie, wortels, seldery, ui en knoffel in jou voedselverwerker en kap baie fyn. (As jy nie ’n voedselverwerker het nie, sal jy al die groente self moet fynkap.) Rol die lamskenkels in die meel en skud die oortollige meel af. Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol en braai die skenkels tot mooi bruin. Voeg die fyngekapte groente, rooiwyn, lourierblare, origanum en aftreksel by die skenkels. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en maak toe met ’n deksel. Kook vir minstens 3 tot 4 ure tot die vleis feitlik van die been af val. Jy kan ook die deksel van die kastrol afhaal vir die laaste uur as die sous te veel is.
LAM SOSATIES
1 groot lamsboud (2-2,5 kg), ontbeen en in blokkies gesny.
125 g droë appelkose
skaapvet of swoerdlose ontbytspek
Marinade
2 groot uie, geskil en in kwarte gesny
125 mℓ witwynasyn
375 mℓ droë rooiwyn
12 suurlemoenblare, gekneus
3-4 dun snye gemmer
15 mℓ bruinsuiker
45 mℓ kerriepoeier
35 mℓ fyn koljander
5 mℓ fyn wonderpeper (all spice)
2 mℓ fyn kaneel
2 mℓ fyn komyn
10 mℓ sout en gemaalde swartpeper
1 mℓ fyn kardemom
Sosatiestokkies – vooraf in water geweek
METODE:
Plaas die lam in ‘n nie-metaalbak. Kombineer die marinade-bestanddele in ’n kastrol, bedek en
kook vir 5 minute.
Laat afkoel en gooi oor die vleis en werk die sous goed deur.
Bedek die sosaties, plaas in yskas en laat dit marineer (dit kan tot 5 dae marineer) Roer die vleis ‘n paar keer per dag om.
Plaas die droë appelkose in ‘n bakkie, gooi kookwater oor en laat uitdy vir ‘n uur of twee.
Sny die skaapvet in baie dun repies, of die ontbytspek in blokkies,
Ryg die vleis, appelkosies en uie (uit die marinade) op stokkies.
Sit die sosaties terug in die marinade tot dit tyd is vir braai.
Braai oor warm kole, bestryk ‘n paar keer met die marinade.(sowat 15 minute). Die vleis moet nog pienk in die middel wees.